Newsletter


2020-04-28
Pta Voedselkooperasie Nuusbrief April 2020


Ek stuur hierdie nuusbrief aan ter inligting en versoek vir hulp. Ons lewe in krisistye en baie mense is onkant gevang. Ek help om die skenkings en aflewerings te koordineer, maar die versoeke is baie meer as die skenkings. Dit is hartbrekend, en ek vermoed dit gaan nog erger word.

 

Ek het nog n versoek, behalwe wat in die nuusbrief staan: As jy kan, begin 'n groenteuin, al is dit in 'n pot op 'n balkon. Herwin alle pitte en sade van groente en vrugte wat jy eet. As jy dit nie self wil plant nie, stuur dit na ons toe. Ons is hard besig om 'n Tuinboukooperasie met groentetuine en vrugteboorde te vestig op die Bronberg Kooperasieplaas. Ons waardeer enige skenkings van saad, pitte en plantjies, wat ons sal kan help om te kan voorsien aan die Voedselkooperasie se hulpskenkingsprojek. 

 

Dagse aan al die lede van die Pretoria Voedselkooperasie;

 

Die meeste van u het in die laaste twee maande by die kooperasie aangesluit.  Baie welkom by ons.

 

Dit was vir die kooperasie ook ‘n baie interesante twee maande gewees.  Ons moes aanpas by die nuwe regulasies van die regering ten opsigte van die grendelstaat,  Die skielike toename in ledetal en die gepaardgaande addisionele werkslas wat dit meegebring het.  Ander uitdagings was natuurlik die langer afleweringsroetes, onverwagse stygings in produkpryse, die lang rye op plekke waar regulasies toegepas word en ook nuwe reels by die markte.  Gelukkig kon daar tot dusver planne gemaak word en kon ons voortgaan om hierdie noodsaaklike diens te lewer.

 

Graag wil die kooperasie net ook weer die volgende beklemtoon, veral aan die nuwe lede;

1.            Die kooperasie word nie bedryf om ‘n wins te maak nie.  Die persone wat die aankoop werk doen, die mandjies pak en aflewer maak self ook nie ‘n wins nie.  Hulle offer hul tyd en moeite op om dit vir u te doen.  Daar is egter kostes wat ook bestry moet word soos verpakkingssmateriaal, brandstof, voertuig gebruik, data, telefoon kostes as voorbeelde.

2.            Die doelwit van die Kooperasie is om vir lede goeie kwaliteit groente en vrugte teen die beste prys moontlik te lewer.  Dit is nie altyd so maklik nie want die kwaliteit word beinvloed deur baie faktore, waarvan meeste buite beheer van die kooperasie is.  Seisoen veranderinge, boere se integriteit, rakleeftyd, kneusing tydens vervoer, temperatuur is maar enkele van die faktore.

3.            Die kooperasie vra nie vir nuwe lede om ‘n aandeel te koop in die kooperasie om sodoende werkskapitaal te kry nie.  Dit volg ‘n eenvoudige kontantvloeiplan.  Ons vra lede om vooruit te betaal en koop dan die groente en vrugte aan met die geld wat beskikbaar is.  Daarom is dit belangrik dat ons staatmaak op u om die betalings vroegtydig te doen.  Bestel ons te veel of te min dan is daar ‘n problem.

 

In die afgelope twee maande was daar drie nuwe lede wat ongelukkig was oor wat hulle ontvang het.  Een was ongelukkig omdat die appels wat die lid ontvang het gekneus was en merke op gehad het.  Die vrywilliger wat met die appels gehelp het, het so paar laat deurglip wat nie goed was nie.  Die ander twee het probleme ondervind omdat die pakkery van die afleweraars ‘n klein foutjie began het.  Die Groot vrugte en groente mandjies was soveel vrugte en groente dat dit in twee bokse gepak moes word.  Met die aflewering het een lid nie sy tweede boks gekry nie en is die tweede boks toe aangesien vir ‘n mikro mandjie en is so verkeerd by ‘n ander afgelaai.  Weereens omdat nuwe vrywilligers baie aflewerings gehad het om te doen en aan die einde van ‘n moeilike dag se gesoek na adresse ‘n foutjie laat deurglip het.  Vir die drie lede wat so beinvloed is vra ons opreg om verskoning.  Graag versoek ons lede wat kritiek lewer om dit asseblief opbouend te doen.  Dan kan ons verbeter en dinge maklik regstel.  Om venynig te wees in die kritiek breek die moed van die vrywilligers en los geen saak op nie.

 

Wat wonderlik was van die afgelope twee maande was dat van die lede ook skenkings gemaak het sodat minder bevoorregtes gehelp kon word.  Met sulke skenkings is daar 14 mandjies by behoeftige gesinne afgelewer wat toe alreeds dae sonder kos gesit het.  Die dankbaarheid van daardie gesinne is beloning aan al diegene wat so bygedra het. 

 

In die laaste week het verskeie organisasies en persone die kooperasie geskakel en gesmeek vir hulp.  Die hongersnood by baie mense is al hartverskeurend.  So is daar in Pretoria Wes ‘n skool voedingskema wat gewoonlik daagliks vir 300 kinders kos gegee het.  Vir baie van hulle was dit die enigste kos wat hulle vir die hele dag gekry het.  Vandat hulle nie mag skool gaan nie het die skool weekliks ‘n kospakkie vir die kinders laat kry.  Nou is die ouers se geld op en is hulle ook nou honger.  Daagliks kom hulle skool toe in die hoop dat hulle iets kan kry.  Maar daar is niks om te gee nie.  Die geld wat die regering vir die voedingskema gegee het word nie meer oorbetaal nie, nie een van die gesinne by die skema het hulp gekry of toelaes gekry nie, meer as 80% van hulle het ook reeds kennis gekry dat hulle hul werk gaan verloor. Nog geen regeringskospakkies is daar verskaf nie. Op hul lys is daar alrees 910 persone wat elke aand honger gaan slaap (ouers en kinders, oupas en oumas).  Die vraag is hoe die kooperasie kan help?  Na baie kopkrap is die volgende moontlik;

 

‘n Basiese en eenvoudige groente en vrugtemandjie vir twee persone vir ‘n week wat bestaan uit aartappels, tamaties, uie, patats, pampoen, kool, appels en piesangs kan teen ‘n koste van R100.00 per mandjie gelewer word teen huidige pryse.  Dit beteken dat om hierdie groep mense te help sal R45 000.00 per week kos.  Dit is ‘n groot uitdaging.  Die vrywilligers in die kooperasie is bereid om die aankope te doen, die verpakking in mandjies en die aflewering (al beteken dit ‘n hele twee dae se ekstra werk).  Die kooperasie kan ook maar net doen wat moontlik is binne sy vermoe en een daarvan is om ‘n beroep op die lede te doen;

 

1.            As dit moontlik is, maak ‘n skenking volgens u vermoe (betaal soos gewoonlik in maar sit ‘n + agter u verwysingsnommer (Bv VK001+);

2.            U kan ook ‘n hele mandjie skenk en ‘n ontvanger daarvoor nomineer.  Die kooperasie sal dit daar gaan aflaai.

3.            As u dalk kos in u spens het wat u weet u nie nodig sal he nie, gee dit asseblief vir die afleweraar sodat ons dit by hierdie gesinne kan uitkry

4.            Vra u bure, vriende en familie om ook te skenk;

5.            Rig skrywes aan organisasies, binnelands en buitelands vir skenkings sodat hulle gehelp kan word.  Onthou dat bestaande welsynsorganisasies alreeds ook oorlaai is en waarskynlik nie kan help nie.

6.            Moedig ander aan om ook lede te word.  Hoe groter die omset van die kooperasie hoe groter word die voordele van skaal en hoe meer kan ons help.

 

By voorbaat dank,

 

Ferdi Roodt